Wednesday, June 8, 2011

Argiewe: inskrywing #1

Jy weet daai gevoel wat jy kry as ‘n liedjie wat jy haat opkom op iTunes net na jy ‘n befokte een geluister het? Dit het sopas met my gebeur. Ek het Foto Na Dans se beautiful Winter geluister, net voor daai stupid colab met Flash Republic my ore kom aanrand het. Dis seker nie so ‘n slegte song nie, maar over-playing is ‘n teef.

So ek het in van my ou skryfstukke/gedigte gaan krap om te kyk of daar iets worthwhile is om hier te post. Toe kom ek af op hierdie inskrywing wat ek een aand laat geskryf het terwyl ek alleen in my koshuiskamer gesit het. Dis gebaseer op die feit dat ek besef het dat ek nog nie naastenby my volle potensiaal bereik het nie en dat daar iets diep binne my is wat skree om te ontsnap. Want eers dan gaan ek ten volle vry kan wees...


“Daar wag iets binne jou...”

Ek mis dit om te sing en te skryf en te skryf tot daar nie meer woorde is om te skryf nie. Ek wil veilig voel in myself en nie myself bekommer oor die banaliteite van die lewe nie. Ek wil net sing en skryf asof die oomblik perfek is. Die woorde maak dit tog perfek. Dis eerder soos ‘n volmaakte imperfeksie wat geskep word. Daardie magiese oomblik tussen dink en neerpen. Daardie onbeskryflike eenheid wat tussen denke en skrywe ontstaan – ‘n oerknal van opeengehoopde kreatiewe frustrasie.

Ek wil nie meer frustreerd wees nie. Ek sal nie weer ingee tot my eie onpraktiese, onwillekeurige simpelgeit nie. Ek sal opstaan teen myself en oorwin bo die gehamer van die banale in my kop – ek sal die banale neerpen en die donnerse frustrasie wegjaag. Want ek hoef nie frustreerd te wees nie. Ek hoef nie alleen in my denke te wees nie. Ek is nie alleen nie.

Want ek is meer as wat ek dink ek is. Arrogansie is nie vir my bewonderenswaardig nie, moet my nie verkeerd verstaan nie. Maar ek weet daar’s iets in my versteek. Daar’s iets diep, diep binne my wat skreeu om uit te kom, maar nie uitkomkans vind nie, want ek laat dit nie toe nie. Ek’s gewoonlik die een wat mense afskiet of afgepis raak as iemand met tonnelvisie leef, maar ek is skuldig aan die einste misdaad. Ek is so behep daarmee om nié ‘n sekere manier te wees nie, dat ek op die einde maar in my eie tonnel van denkwyse leef. Ek laat nie toe dat ander naby my kom nie, want ek’s bang hulle versteur my lyn van visie – moet tog net nie in my pad kom staan nie, ek raak verbouereerd.

Eensaamheid is baie meer as om net alleen te voel. Eensaamheid is om verwyderd van jouself te voel, want jy weet nie meer waar in die groot kosmos van die lewe jy jou bevind nie. Jou tonnel is so diep gegrawe, dat jy nie uitkomkans kan sien nie.

Die enigste manier hoe ek hier, uit hierdie tonnel, kan ontsnap, is om dit wat so diep, diep binne my is, vry te laat. Want as ek my ware identiteit vrylaat, sal ek ook vry wees. En uiteindelik sal ek minder eensaam wees en weer een wees met myself. Want dis donners eensaam as jy nie eers jou eie identiteit byderhand het nie. Glo my.

10 Maart 2011, 23:38

(Foto deur Anja Morkel. Junie 2010.)

Vakansie is fantasties. Winter en vriende is selfs meer fantasties. My pa wat homemade pizza maak... Wel, dis net ongelooflik.

Adios.

1 comment:

  1. Hey Anja dit is baie mooi, veral daardie tweede laaste paragraaf. Jy moenie so hard wees op jouself nie though. Dit vat tyd om jouself te leer ken en dit is nodig dat mens jou eie foute raaksien.

    ReplyDelete